NUUTSTE NUUS

LEES GERUS ONS NUUTSTE NUUS
Só lyk weidingstoestande in SA

Só lyk weidingstoestande in SA

geplaas op 12:07 (GMT+2) Do., 10 Aug. 2017

Erge droogtetoestande duur voort in drie van Suid-Afrika se provinsies.

Só lyk weidingstoestande in SA

Deur Joylene van Wyk
10 Augustus 2017

Erge droogtetoestande duur voort in drie van Suid-Afrika se provinsies. 

Water droog op, weidingstoestande is swak, vee vrek en voeraankope gaan ten duurste voort in drie van Suid-Afrika se provinsies wat nog in die wurggreep van die droogte vasgevang is.

Oos-Kaap trek swaar
 In die Oos-Kaap is die weidingstoestande, veral in die gebiede van Whittlesea en Ntabathemba, baie sleg. Die beeste en skape is baie maer. In dié gebiede duur lamtyd van Mei tot die einde van Julie en teen hierdie tyd het van die lammmers alreeds gevrek van die honger, het die Oos-Kaapse Rooivleisprodusente Organisasie (RPO) aangedui. “Hier en daar is darem boere wat mielies en lusern teen laatmiddag voer.”

Volgens dr. Amie Aucamp, bestuurder van die Oos-Kaapse RPO, is die situasie van die kus tot by die platorandgedeelte (Amatola, Winter- en Sneeuberg) krities. Veevrektes kom voor en voer word ten duurste aangekoop. Boere kry wel baie skenkings wat hulle opreg waardeer, maar water is besig om op te droog. “Van die platorand noordwaarts is weidingstoestande redelik, maar goeie vroeë lentereën word dringend benodig.”

Landbouweekblad het dokumente in sy besit wat aandui dat die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit van plan is om sy gebied ’n rampdroogtegebied te verklaar. Daar is reeds aanduidings dat die provinsiale Departement van Water en Sanitasie geen geld vir droogtehulp beskikbaar het nie en ook géén geld vir onvoorsiene uitgawes het nie.

Noord-Kaap situasie benard
 Dit gaan nie veel beter in die Noord-Kaap nie. Mnr. Dirk Krapohl, bedryfsbestuurder van die RPO in die Noord-Kaap, sê in die Calvinia-distrik is die weidingsomstandighede nog in ’n benarde toestand. Alhoewel die westelike deel van die distrik reën gehad het aan die begin van Junie met die storms in die Kaap, het daar van toe af nog geen of baie min reën geval.

Die veld het verkleur en stadig begin bot vanweë die koue en droogte, maar geen noemenswaardige kos gelewer nie. Die oostelike dele van Calvinia, Brandvlei tot by Williston en die Boesmanland het groot moeilikheid, met onder 50 mm reën wat sover vir die jaar geval het. Verder sukkel abattoirs om lammers uit die distrik te kry en pryse het so twee weke gelede by R81 vir wollammers gedraai.

Dit wys op ’n groot tekort. “Boere het maar die helfte van hul gemiddelde lammer-oes ingekry, en dan word die lammers ook maar aan die voerkrale bemark.”

In die somerreëngebied van Namakwaland is ruvesel op die veld 15% en minder. Die vee se se reproduksie staan op 59%. Dan is die veldbelading op die oomblik maar tussen 50% tot 60% van die weidingskapasiteit. “Die gevolg is hierdie vee-eienaar kry maar ’n opbrengs van sowat 40% op sy weidingskapasitet. Dus, vir elke 100 lammers wat hy kan bemark, bemark hy nou 40 lammers.”

Alle lammers en skape wat bemark word, moet eers deur ’n voerkraal gaan voor dit gereed is vir die verbruiker. In die winterreënvalgebied gaan dit nie veel beter nie. Altesaam 40% van die bosse hier is dood. Die hoeveelheid reën wat hier geval het, was nie eens 25% van die gemiddelde reënval nie. “Graan wat geplant is, is ’n totale misoes.”

In Victoria-Wes en omgewing strek die weiding van redelik tot swak. In Loxton is dit baie swak, maar heel aanvaarbaar in die Vosburg-gebied. Toestande is egter besig om vinnig te verswak in al die gebiede en vroeë lente reën is dringend nodig om die droogte toestande te verlig.

Petrusville het laas reën in Februarie gehad. Dit was 200 mm en in April het slegs 8 mm neergesak. Baie van die gras hier is nou droog en niks werd nie. Die koue van die winter het die veld verder verswak en koeie en kalwers begin swaar trek. Lammers moes hier al op 20 kg gespeen en gevoer word sodat hulle teen 30kg na die voerkraal kon gaan waar hulle vir slag verder gevoer kan word.

Min reën het ook in die Sutherland-winterreënvalstreek geval en veldtoestande is sleg. ’n Boer van naby Richmond in die Noord-Kaap, sê hy het van 26 Desember 2016 tot 15 Februarie vanjaar 300 mm reën gehad. Geen reën het daarna weer geval nie en saam met ’n koue winter is alle bossies nou pikswart en droog. “Dit voel of ek swakker af is as laasjaar. Die vee se kondisie is mooi, maar sal van nou af hulp moet kry. Die lammers is baie minder as laasjaar.”

Wes-Kaap beleef steeds krisis
 In die Wes-Kaap bly weiding en voer ’n groot probleem. Mnr. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê hulle help al sedert November 2015 produsente in die provinsie se twee rampgebiede, die Weskus-distrik en Sentraal-Karoo, met droogtehulp. Die probleem is egter dat al hoe meer gebiede in die moeilikheid raak.

Die Eden-distrik het veevoer ook nou krities nodig, sowel as produsente in die Knysna- en die Riversdal-gebiede, waar brande weiding vroeër vanjaar totaal vernietig het. Ruvoer is al vir maande nie meer in die Wes-Kaap beskikbaar nie. Tot nou het Agri Wes-Kaap 5 500 ton veevoer aan produsente gelewer, teen ’n koste van R4 miljoen. Die voer en die geld was skenkings aan die organisasie se droogtehulpfonds. Dit is egter al uitgeput.

“Dit is baie duur om voerskenkings uit die noorde na die Wes-Kaap te verskuif, so ons het finansiële bydraes dringend nodig.” In dié provinsie is die rooivleisbedryf in drie gebiede verdeel. Dit is die Suid-Kaap/Overberg, wat ongeveer 49% van die provinsie se diere bevat, Koeberg/Swartland en Weskus/Namakwaland met ongeveer 29% van die diere, en Sentrale Karoo met ongeveer 22% diere.

Vrystaat lig sy kop
 Dit lyk of veldtoestande in die Vrystaat heelwat beter daaruitsien. In die Noord-Vrystaat in die Heilbron-gebied is daar baie veld, die meeste in jare, maar veldgehalte is swak en diere se kondisie stem nie ooreen met die veld nie, sê die RPO in die Vrystaat. Veldbrande is ’n groot moontlikheid. ’n Bogemiddelde saai-oes is wel hier afgehaal.

In die Reitz/Petrus Steyn-gebied lyk die grasvelde goed en groenvoer wat geplant is, kom kol-kol op. In die Ladybrand/Excelsior-gebied is omstandighede normaal en middelmatig vir hierdie tyd van die jaar. Die gras se voedingswaarde is laag omdat dit vining gegroei het en baie saad gemaak het die afgelope seisoen. Boere hier maak baie staat op mieliereste en groenvoer.

In Harrismith in die Oos-Vrystaat is die weiding normaal. Die landreste is volop weens hoë opbrengste en die produsente het almal weer genoeg hooibale gemaak. In die Trompsburg-gebied in die Suid-Vrystaat is weidingstoestande gemiddeld tot ondergemiddeld, met reën wat slegs in Januarie en Februarie uitgesak het.
 Groenvoergehalte in die gebied is swak vir die September-lamseisoen, wat meer lek sal vereis. Vanweë goeie vleis- en wolpryse oorleef die boere hier, maar somerreën is broodnodig om uit die moeilikheid te bly.

Vee in Limpopo uitgedun
 In die Thabazimbi-gebied in Limpopo heers geen droogtekrisis meer nie, maar kommer heers oor moontlike brande wat ’n weidingskrisis kan meebring. Dié gebied het in Januarie baie goeie reën gehad. In die Alldays/Waterpoort-gebied is die weiding tans nog voldoende vir die vee wat die boere aanhou, aangesien ’n bietjie reën uitgesak het.

Me. Wilma Prinsloo, bedryfsbestuurder van die RPO in Limpopo, sê dit hang nou net af hoe vinnig die reënseisoen aanvang neem om die gras wat tans daar is aan te vul. Die beskikbare vee vir die kommersiële mark is met verlede jaar se droogte redelik uitgedun, aangesien die boere weens weidingstekort reeds van vee ontslae geraak het wat nie deel is van hul kernkuddes nie.

“Boere sal meer oorweeg om voer aan te koop en deur te trek tot die reënseisoen beter lyk. Die tradisionele droë gebiede soos in Waterpoort, het die boere reeds begin voer.” Sy het aangedui dat goeie reën in die Koedoesrand-gebied geval het, en dus is die weiding hier goed. Daar is ook plase wat geen weiding het nie weens bos wat uitermatig groei. “Die meeste boere sal wel oorleef vir die volgende drie maande.” Diegene wat ontbos het, het egter baie weiding.

“Wanneer jy deur die Koedoesrand-area ry sien jy egter minder permanente weiding waar permanente polle groei. Die meeste is tydelike gras. Die gras wat egter nou beskikbaar is vir die diere het nie voedingswaarde nie, en daarom gee die meeste boere ’n aanvulling,” het sy aangedui.

Dit gaan goed in Mpumalanga, Gauteng en Noordwes
 Mnr. Hennie Laas van die RPO in Mpumalanga dui aan dat die provinsie nie regtig droogte ervaar het nie. “Meeste produsente benut op hierdie stadium oesreste op die lande. Wanneer die vee die weidings op die lande verlaat, het die produsente genoegsame bale om die winter deur te sien.”

Groot kommer heers egter in die opkomende sector, waar daar weens swak weidingbestuur en die gebrek aan gehalte voorligting nie voldoende voorsiening gemaak is vir voervloeiprogramme om die winter deur te sien nie. Die brandseisoen betree ook nou sy piektyd en skep ongelooflike risiko’s vir weiding en bale wat kan afbrand voor die aanvang van die reënseisoen, sê Laas.

’n Silwer randjie is dat vleispryse goed is veral omdat die aanbod van vee nou laer is. Gauteng kan op sy beurt nie kla oor weiding nie. “Die weiding is fantasties,” het die RPO hier laat hoor. In die Noordwes gaan dit oor die algemeen goed met weidingstoestande.

Toestande in KZN redelik
 In die algemeen ondervind KwaZulu-Natal ’n goeie seisoen. Die meeste distrikte het voldoende water, weiding en veevoer. Distrikte wat die afgelope somer nie voldoende reën ontvang het nie, ondervind gevolglik huidig in die midwinter-tekort met water en ook veevoer.

Die omvang van die droogte wissel selfs binne distrikte. Dit strek vanaf Estcourt en Dundee tot Pongola in die noorde, met sekere dele wat ondergemiddelde produksie ondervind.


Deel met vriende    



Korporatiewe Video

OVK Video
OVK Video
Lees Meer

Dokumente

Nuutste Dokumente
Nuutste Dokumente
Lees Meer

Kalender

Kalender
Kalender
Lees Meer

OVK Nuus

OVK Nuus Junie 2017
OVK Nuus Junie 2017
Adverteer Hier Lees Meer