NUUTSTE NUUS

LEES GERUS ONS NUUTSTE NUUS
Boere, moenie swyg oor skuld – kenners

Boere, moenie swyg oor skuld – kenners

geplaas op 11:43 (GMT+2) Vr., 11 Aug. 2017

Boere wat weens die droogte geldelik in die knyp is, moet so gou as moontlik met hul finansierders gaan gesels, sê kenners.

Boere, moenie swyg oor skuld – kenners

Deur Carien Kruger
11 Augustus 2017

Boere wat weens die droogte geldelik in die knyp is, moet so gou as moontlik met hul finansierders gaan gesels, sê kenners.  


Finansiële kenners se belangrikste boodskap aan boere wat weens die droogte geldelik in die knyp is, is om so spoedig moontlik met hul finansierders oor herskedulering van skuld en verdere finansiering te praat en nie te wag tot die kalf in die put is nie.

Mnr.Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by ENB, sê daar is nie ’n “kombers-benadering” om boere met skuld te help nie. Elke aansoek of geval word op eie meriete evalueer. “Banke is oor die algemeen bereid om te help waar hulle kan, maar natuurlik binne die raamwerk van die Nasionale Kredietwet.

“Boere behoort egter nou goeie besigheidsbesluite te neem. Waar reserwes uitgeput raak kan hulle van nie-produktiewe bates verkoop om te verseker dat produktiewe bates behoue bly. Hulle moet ook probeer om streng te hou by kontantvloei-begrotings en beplanning aanpas om verpligtinge sover moontlik na te kom.”

Regte besluite
“Dit is belangrik dat die boer eerlik met die bank moet wees sodat die regte besluite geneem kan word. Die opsies sal uiteraard verskil, maar kan enige iets wees van herstrukturering van skuld tot kapitaal-moratoriums.”

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê die invloed van die groot droogte oor die hele land sal nog 'n paar jaar duur, veral vir boere wie se balansstate erg geknou is. “Die kommersiële banke, Land Bank en landboubesighede het verlede jaar onderneem om, waar moontlik, produsente te ondersteun met herskedulering van skuld om hulle sodoende op hul plase te hou.”

In die somerreëngebiede het dit, tesame met goeie reënval, daartoe gelei dat rekord-mielie- en sojaboon-oeste gerealiseer kon word. Hier kon die meeste produsente hul skuld delg, nieteenstaande aansienlik swakker kommoditeitspryse, sê Purchase.

In die Suid-Kaap
In die Suid-Kaap bemoeilik die droogte boere se weidingsbestuur en bring groot geldelike gevolge mee. Mnr. Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Koöperasie in Humansdorp, sê volgens kenners was die laaste nege maande die droogste opeenvolgende maande in 91 jaar.

Agenbach sê Die Koöperasie is uiters simpatiek oor die situasie. “Kenners word ingebring en spesialis-lesings aangebied om boere raad te gee, soos hoe om met minder water te boer.”

“Boere probeer om die las op grond ligter te maak, en om geld te bekom om voer te koop.” Boere verkoop dus meer verse en koeie wat nie bevredigend produseer nie.

Melkboere se aangeplante weidings
“In ons omgewing gebruik melkboere aangeplante weidings. Weens die droogte moet boere noodwendig ruvoer inkoop, wat 'n geweldige finansiële las tot gevolg het. Vergeleke met dieselfde periode verlede jaar, het Die Koöperasie se regstreekse bemarkingstak 'n 200%-styging ervaar in volume voer gehanteer.”

Die Koöperasie ondersoek moontlikhede om te voorsien in sy lede se behoefte om deur konsolidasie skuld oor 'n langer termyn af te betaal om só kontantvloei te verbeter.

Daar is reeds 'n toename in die konsolidering van lede-rekeninge by banke, sê Agenbach.

In die Wes-Kaap
Oor die situasie in die Wes-Kaap, het Maree gesê dit is nog te vroeg om die ware impak te bereken. Dit hang baie af van die bedryf waarbinne die boer werk, soos lewende hawe, vrugte, grane, en so aan.

“Met grane sal ons teen einde September tot middel Oktober ’n baie beter gevolgtrekking kan maak. Indien dit nie reën sal ons ook groot uitdagings in die vrugtebedrywe moet trotseer. Ons het alreeds gesien dat daar ‘n afname was in werksgeleenthede in die vrugtebedryf weens laer produksie.”

Maree sê die Wes-Kaap is Suid_Afrika se belangrikste provinsie wat die uitvoer van landbouprodukte betref. As die droogte voortduur kan dit ernstige gevolge vir die landbou-ekonomie en ook nasionale ekonomie inhou. Landbou en voedselverwerking sorg ook vir 18% van die werksgeleenthede in die provinsie. Dit is 24,5% van die werksmag in Suid-Afrikaanse landbou.

* Geskryf deur Carien Kruger en Nico van Burick


Deel met vriende    



Korporatiewe Video

OVK Video
OVK Video
Lees Meer

Dokumente

Nuutste Dokumente
Nuutste Dokumente
Lees Meer

Kalender

Kalender
Kalender
Lees Meer

OVK Nuus

OVK Nuus Junie 2017
OVK Nuus Junie 2017
Adverteer Hier Lees Meer