NUUTSTE NUUS

LEES GERUS ONS NUUTSTE NUUS
Chris Burgess: SA boere staan uit in VSA

Chris Burgess: SA boere staan uit in VSA

geplaas op 17:10 (GMT+2) Ma., 04 Sep. 2017

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het tydens 'n landboutoer in die Amerikaanse Midde-Weste besef hoe suksesvol Suid-Afrikaanse boere in Amerika sou wees.

Chris Burgess: SA boere staan uit in VSA

Deur Chris Burgess
4 September 2017

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, het tydens 'n landboutoer in die Amerikaanse Midde-Weste besef hoe suksesvol Suid-Afrikaanse boere in Amerika sou wees. 

Die skaal is indrukwekkend, hier waar ’n groep van Suid-Afrika se beste saaiboere saam met Monsanto op toer is deur Amerika. In Illinois staan hulle in die skaduwee van John Deere S690-stropers en reuse-Brentrusperbandtapkarre by Chris Dowson se enorme saaiboerdery.

Chris, sy twee seuns en ’n skoonseun saai op ongeveer 25 000 ha wat 100 myl noord, oos en wes en 40 myl suid strek. ’n Driekwart daarvan is mielies en ’n kwart sojabone. Chris besit ’n kwart van die grond en die res huur hy. Teen produksiekoste van ongeveer R15 000/ha en ’n gemiddelde opbrengs van 12 t/ha beloop sy wins rofweg hier bo R200 miljoen per jaar.

Dit maak van hom een van die grootste, indien nie dié grootste nie, mielieboer in die Midde-Weste. Dit is sekerlik van die beste grond ter wêreld, met ’n koolstofinhoud van tot 23%. By ons in Suid-Afrika sukkel dit gereeld hier by 0,5%. Dit is geen wonder nie dat ’n hektaar van die “dirt”, soos Chris na sy swart grond verwys, jou R368 000 uit die sak gaan jaag.

Om hierdie onderneming te bestuur, moet jy kophou. Die aangename Chris is uiteraard ’n wêreldklasbestuurder en hy behartig alle deurslaggewende take, soos die kalibrering van toerusting, self. Tog, wanneer hy deur ons boere uitgevra word oor die struikelblokke wat hy moet trotseer, weet hy aanvanklik nie wat om te sê nie.

“Elke dag stel maar sy eie eise,” merk hy uiteindelik teenoor die verbaasde Suid-Afrikaners op. “Ons probeer maar net om foute te vermy.”

Regeringshulp
 Buiten die goeie grond en hoë reënval help ruim regeringshulp om boere se lewens nóg makliker te maak. Die ongeveer R270 miljard per jaar wat Amerikaanse boere van die regering ontvang, is byna die Suid-Afrikaanse landbou se hele bruto binnelandse produk (BBP) en 3% van die land se BBP.

’n Amerikaanse boer kry 23% van sy inkomste van die regering. In Suid-Afrika, danksy voordele soos ’n dieselrabat, is dit vir die meeste boere hoogstens 1%. Dit is blykbaar ook moeilik om mededingend op die Amerikaanse mark vir landbouversekering te wees, want sodra private maatskappye met ’n vernuwende versekeringsmodel vorendag kom, dupliseer die regering dié model met belastingsbetalers se geld.

Dit hou nie by die uitstekende grond, hoë reënval, ruim subsidies en puik versekering op nie. Die bevolking waardeer boonop die boere. Wanneer stropers en ander werktuie op openbare paaie ry, trek mense onmiddellik van die pad af om plek te maak.

Verliese
 Maar dit kom alles teen ’n prys. Op die Dowson-plase is die John Deere Exact Emerge-planters wat gebruik word, die naaste wat hulle aan presisieboerdery kom. Dit is ’n verstommende feit vir die Suid-Afrikaanse boere wat juis deur Monsanto na Amerika gebring is om die nuutste presisietegnologie te besigtig.

Geenbewerking word net op heuwelagtige lande gedoen, want die regering dring daarop aan in ’n poging om erosie te bekamp. Vir Chris is daar nie ’n verskil tussen kalsitiese en dolomitiese kalk nie, alles is net “lime”. As jy die pitte agter sy stropers tel, verloor hy sowat 700 kg per hektaar.

Enige boer in Noordwes sou in die hek geduik het met sulke verliese. Maar daarin lê die les. Om in Suid-Afrika se taai toestande te oorleef, moet jy jou somme baie fyn maak. Ek wonder of Chris op Noordwes se sandgronde sou kon oorleef, maar die laaste een van ons boere sou groot sukses behaal in Illinois. En dít is bitter indrukwekkend.

* Chris Burgess is redakteur van Landbouweekblad. Hierdie is sy redakteursbrief in LBW van 8 September.


Deel met vriende    



Korporatiewe Video

OVK Video
OVK Video
Lees Meer

Dokumente

Nuutste Dokumente
Nuutste Dokumente
Lees Meer

Kalender

Kalender
Kalender
Lees Meer

OVK Nuus

OVK Nuus September 2017
OVK Nuus September 2017
Adverteer Hier Lees Meer